‘Vervalde items’ lei glo tot dood van vroue op plaas

Lees ook :

Foto: NVG

LIMPOPO. – Locadia Ndlovu (35) en Maria Makgatho (44) se liggame is in ‘n varkhok op die plaas Onverwacht ontdek nadat ‘n vragmotor op 17 Augustus vermoedelik vervalde items op die plaas weggegooi het.

Mashudu Malabi Dzhangi, woordvoerder vir die NVG, sê die twee vroue, van wie Ndlovu ‘n Zimbabwiese burger, was na bewering saam met nog ‘n man op die plaas om van die items te bekom. Na bewering het Zachariah Johannes Olivier (60), die plaaseienaar en varkboer, Adrian Rudolph de Wet (19), die toesighouer en William Musora (45), ‘n Zimababwiese burger, na die drie betreders geskiet. Die twee vroue het gesterf, maar die gewonde man kon daarin slaag om na die pad te kruip en mediese hulp te kry.

Dzanghi sê die saak het vir ‘n formele borgverhoor op 30 Augustus in die Mankgweng-landdroshof voorgekom. Die drie verdagtes het op twee aanklagte van moord met voorbedagte rade, een van poging tot moord, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en regsverydeling in die hof verskyn. Boonop word Musora daarvan aangekla dat hy ‘n onwettige immigrant is.

Gedurende die borgverhoor het die verdediging in Olivier se saak toegang tot sy waarskuwingsverklaring versoek en vir De Wet is toegang tot die inhoud van die saakdossier versoek.

“Die staat het die versoeke teengestaan en beweer die beskuldigdes is nie vir borgtogdoeleindes op die inligting geregtig nie. Gevolglik neem die staat kennis van appèl in Olivier se aansoek vir toegang om die inligting te bekom, teen ‘n beslissing wat landdros Arshad Chaya gemaak het.”

Dzhangi sê die saak is tot 10 September uitgestel sodat die proses kan ontvou en vir ‘n moontlike borgverhoor om plaas te vind.

Die beskuldigdes bly tot die volgende hofverskyning in aanhouding.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

Zachariah Olivier (60), ‘n boer, en sy twee werknemers, Adriaan de Wet (19) en William Musoro (45), ‘n buitelandse burger, het in die Mankweng-landdroshof voorgekom.

Die hofverskyning volg nadat twee ontbinde vroueliggame in ‘n varkhok op die plaas gevind is. Die verdagtes is gearresteer en het op aanklagte van twee moorde, een aanklag van poging tot moord, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, regsverydeling en vir Musoro die oortreding van die immigrasiewet, in die hof verskyn.

Die ondersoek is begin toe ‘n vrou (45), vergesel van ‘n vroulike buitelandse burger (35), wat die plaas op 17 Augustus besoek het, as vermis aangemeld is. Beide is met skietwonde gevind. ‘n Manlike buitelandse burger (47), wat saam met die vroue was, herstel van ‘n skietwond in die hospitaal.

Kol. Malesela Ledwaba sê die hofsaak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 30 Augustus uitgestel.

Die ondersoek duur voort.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief