OOS-KAAP. – Reinhardt Leach (35) is vir die moord op Vicki Terblanche (46), sy meisie, deur die hooggeregshof tot 25 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis. Haar liggaam is Oktober 2021 in ‘n vlak graf in Greenbushes ontdek.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê die moord is vir finansiële redes gepleeg. Leach en sy medebeskuldigde, Arnoldus Terblanche (54), Vicki Terblanche se vervreemde man, het saamgesweer om haar te vermoor. Vicki het na haar egskeiding van Terblanche R35 000 onderhoud per maand en ‘n aansienlike finansiële skikkingsbedrag gevra. Leach, wat in kriminele aktiwiteite van perlemoenstropery en dwelmgebruik betrokke was, het op sy beurt Vicki se dood as toegang tot haar bates gesien.
Tyali sê Leach het skuldig gepleit en onthul hy en Terblanche het op 12 Oktober 2021 bespreek om Vicki te vermoor. Dit moes lyk asof Vicki van ‘n oordosis dwelms gesterf het, sodat Terblanche nie verdag moes voorkom nie en hy toesig oor hul kind kon kry.
Ses dae daarna is Vicki deur ‘n koeldrank met ‘n groot hoeveelheid “perkies” in, bedwelm en met haar kussing versmoor. Die dag daarna is haar liggaam in die vlak graf begrawe. Die misdaadtoneel is opgestel kompleet met fyngedrukte pille wat strategies geplaas is, om dit na ‘n dwelmoordosis te laat lyk.
Leach en sy makkers het haar persoonlike besittings na haar dood verkoop om sy dwelm- en alkoholgewoontes te onderhou. Hy het daarna op 21 Oktober 2021 vir Vicki valslik as vermis aangemeld. Volgens hom het sy vermis geraak nadat hulle saam geslaap het. Die polisie het haar liggaam twee dae later ontdek. Daar is vasgestel sy is vermoor, wat tot Leach se arrestasie gelei het.
Leach het in die hof op die aanklagte teen hom skuldig gepleit, waarna hy vir sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ‘n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en regsverydeling en die besit van dwelms, gevonnis is.
Marius Stander, die senior staatsadvokaat, het tydens vonnisoplegging vir ‘n aansienlike vonnis gevra en klem op die voorbedagte aard van die misdaad en die pogings om owerhede te mislei, gelê. Klem is voorts op die roof, dwelmgebruik en die miskenning van Vicki se lewe gelê, waarna Leach gevonnis is.
Volgens Tyali verskyn Terblanche weer op 7 Oktober 2025 in die hof en sal afsonderlik vir sy betrokkenheid by die misdaad verhoor word.





