KWAZULU-NATAL. – Vier skubaduikers het Sondag in die omgewing van Protea Banks, Southern Pinnacle, ongeveer vier seemyle vanaf Margate-strand, vermis geraak. Die drie mans en ‘n vrou kon na ‘n soektog gered word.
Gary Wolmerans, NSRI-stasiebevelvoerder by Shelly Beach, sê hulle is omstreeks 10:30 ontbied. Die vier skubaduikers tussen die ouderdom van 18 en 43 jaar, waaronder ‘n pa en dogter van Kaapstad, het tydens ‘n skubaduik vermis geraak.
Terwyl daar na hulle gesoek was, het die huurboot alarm gemaak en alle rolspelers, waaronder Medi-Vac en MI7 National Group se ambulansdienste, is geaktiveer. Paramedici was aan boord van die NSRI-reddingstuig. Lt.kol. Pine Pienaar van die SAAF het ook tydens die soektog by die operasionele sentrum gehelp.
Tydens die soektog met 4.5 meter hoë seedeinings is die vier duikers om 13:37, drie seemyl van Leisure Bay, in die see opgespoor.
Volgens die NSRI was die vier duikers in ‘n goeie gemoedstoestand, alhoewel hulle sonbrand opgedoen en gedihidreer, honger en moeg was. Die vierstuks het 18 seemyl suid van waar hulle geduik het, gedryf en het hulle boot uit die oog verloor voordat hulle deur seestrome verder gedryf is.
Paramedici het waar nodig mediese hulp toegepas en die vier duikers is veilig in Shelly Beach aan wal gebring. Hulle is na verdere mediese evaluasie in goeie gesondheid laat gaan.





