GAUTENG. – Vier mans is vir ondervraging ingeneem nadat die liggame van Hester Flemming (52) en Cecilia Johanna Flemming (82) Maandag vermoor gevind is nadat daar overpoosd na hulle gesoek is.
Kol. Mavela Masondo bevestig aan Nuuslfits die vroue is tydens ‘n huisroof in Kliprivier ontvoer en hulle liggame in De Deur in ‘n ou mynskag gevind. ‘n Moordsaak is by De Deur-polisiestasie geregistreer. ‘n Verdagte is in besit van items wat tydens die huisroof gesteel is, in hegtenis geneem. Die verdagte het Maandag in die Vereeniging-landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding.
“Nog drie mans is vir ondervraging oor die saak van huisroof en ontvoering vir ondervraging ingeneem.”
Nuusflits het voorheen berig Mike Bohuis van Specialised Security Services sê die vroue se liggame is in ‘n oopgroefmyn in Eikenhof gekry: “Sedert die voorval op Saterdag 26 Oktober 2024 aangemeld is, het talle spanne van die SAPD, SSS, NCA, Gemeenskapsforums, GPF van omliggende gebiede, JMPD, veiligheidsmaatskappye, familie, vriende en gemeenskapslede onvermoeid gewerk om na die slagoffers te soek. Elke leidraad is opgevolg, met ontelbare ure wat aan die saak gewy is.”
Die grootskaalse soektog na die twee vroue wat Saterdag ‘n aanvang geneem het, het tot Maandag geduur. Bollhuis sê die polisie se soek-en-reddingspan is tans op die toneel om die liggame uit die oopgroefmyn te haal.
Bolhuis sê die vroue is volgens vermoede tydens ‘n plaasaanval op die nag van 25 Oktober ná 22:00 in Caymenstraat, Alewynspoort, Eikenhof, aangeval en ontvoer. Die aanval het op die plaas langs die Eye of Africa-landgoed plaasgevind. Die verdagtes het glo toegang verkry deur ‘n heining te knip en ‘n veiligheidshek oop te breek. Die huis is geplunder en twee voertuie is gesteel. Een van die voertuie is vroeg Saterdag in Thokoza opgespoor. ‘n Metaalgroen Isuzu-dubbelkajuitbakkie met registrasienommer CB01WRGP is steeds vermis. Geen losprys is geëis nie.
Kol. Mavela Masondo sê Kliprivier-polisiestasie het sake van huisroof, ontvoering en die diefstal van ‘n motorvoertuig oopgemaak. ‘n Verdagte is gearresteer, nadat hy in ‘n informele nedersetting met items wat uit die huis van die slagoffers gebuit is, vasgetrek is.