KWAZULU-NATAL. – Vier vermeende verdagtes wat glo vroeër vandag (Dinsdag) ‘n huisroof gepleeg het, is kort daarna tydens ‘n skietgeveg met die polisie in Underwoodweg, Pinetown, gewond.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie is na ‘n klagte van huisroof in Oxfordweg in Paradise Valley ontbied. ‘n Wit VW Polo het van die toneel weggery en die polisie het dit probeer stop. Die bestuurder het egter die polisiebevel verontagsaam, waarna ’n hoëspoedjaagtog gevolg het. In Underwoodweg het die verdagtes op die polisie geskiet, waarna die polisielede teruggeskiet het.
Vier verdagtes is gewond en op die toneel behandel. Hullle is daarna onder polisiebewaking na ‘n hospitaal geneem. Twee vuurwapens, ’n platskerm-TV, juweliersware, twee luukse handsakke en huisware is by hulle gevind. ’n Soektog is aan die gang na ’n vyfde verdagte wat gevlug het.
Sodra die verdagtes medies geskik is, sal hulle in die hof verskyn.





