WES-KAAP. – ‘n Plaaslike visserman het Woensdagoggend net na middernag ‘n vrou (31) van George se lewe op die kuslyn van Diasstrand in Mosselbaai met ‘n visstok gered.
Volgens die NSRI wou die vrou om middernag in die see gaan swem en is in ‘n seestroom vasgevang. Die visserman het ‘n vislyn met ‘n kabeljouhoek na die vrou gegooi. Daarna is sy met die hoek aan haar denimbroek na veiligheid gekatrol. Nog ‘n visserman het toe die water heuphoogte inbeweeg en die vrou tot op die strand gehelp.
NSRI Mosselbaai se diensbemanning is net voor 01:00 geaktiveer nadat ‘n ooggetuie ‘n verdrinking by Tri Towers aangemeld het. Die ander nodige rolspelers is ook gemobiliseer. Met aankoms op die strand is die vrou veilig aangetref. Sy is vir nie-verdrinkingsimptome behandel, waarna sy geen verdere mediese hulp nodig gehad het nie.
Die visserman wat die vrou se lewe gered het, is vir sy optrede geprys.





