Visserman stééds gesoek

Lees ook :

Foto's: John Matambu Facebook-blad, NSRI en St. Lucia Ski Boat Club

KWAZULU-NATAL. – John Matambu, die visserman wat Saterdag van Sodwanabaai vermis geraak het, is steeds nie opgespoor nie. Hy was die skipper op die boot Magnum Too toe hy vermis geraak het.

Die uitgebrande boot is soos voorheen berig naby Dobela opgespoor, maar sonder ‘n spoor van Matambu.

Matambu is by die Mbazwana-polisiestasie as vermis aangemeld.

In visserman-, familie- en vriendekringe word daar dag en nag na Matambu en ‘n persoon wat glo van Komatipoort afkomstig is en saam met hom op die boot was, gesoek. Die inligting is egter nie deur owerhede aan Nuusflits bevestig nie.

Kol. Nqobile Gwala het aan Nuusflits gesê die saak word tans steeds soos ‘n vermistepersoonsaak hanteer, aangesien dit nog onbekend is wat met Matambu gebeur het. Gwala verseker egter die ondersoek duur voort en sal Nuusflits op hoogte hou wanneer nuwe bevestigde feite deur die ondersoek in die saak beskikbaar gestel word.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

John Matambu het nadat hy Saterdagoggend vermoedelik van Sodwanabaai aan die Noordkus naby die grens van Mosambiek met die boot Magnum Too vertrek het, vermis geraak. Die uitgebrande Magnum Too is intussen gevind.

Met die hoop op ‘n veilige terugkeer gons dit in visvangkringe om uit te vind wat van skipper Matambu geword het. Daar is volgens vermoede nog ‘n onbekende man (of dalk meer persone) aan boord. Bekommernis bestaan oor die veiligheid vir al die persone aan boord van die boot. Dit is nie in Matambu se aard om nie betyds na Sodwanabaai terug te keer nie. Daar is Saterdag om 11:30 die laaste keer van hom gehoor.

Volgens die NSRI is Matambu by Mbazwana-polisiestasie as vermis aangemeld. ‘n Persoon het glo vals inligting verskaf om die boot te huur. Die NSRI sê die inligting is egter onbevestig. Die persoon het glo op ‘n motorfiets in Sodwanabaai aangekom.

Die NSRI sê ‘n soektog in ‘n noordelike rigting op die kuslyn het niks opgelewer nie.

“Fears are – that the ski-boat MAGNUM, that may have been seen to be heading North, past Banga Neck, and may have been pinned in the vicinity of Inhaca (unconfirmed) – may be involved in nefarious circumstances that are rapidly increasing concerns.”

Enigiemand met inligting om Matambu op te spoor, word versoek om die NSRI- operasionele sentrum by 087 094 9774 te bel.

Volgens die St. Lucia-skibootklub is die Magnum Too uitgebrand gevind naby Dobela, soos op die foto te sien, maar Matambu en moontlike passasiers van die boot word steeds gesoek. Die noodhulpkissie van die boot is nie in die brand vernietig nie, maar dit lyk asof dit gebruik is.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief