WES-KAAP. – Emma en Stephan, onderskeidelik gr. 11 en gr. 10-leerlinge van Hoërskool Durbanville, het Sondag saam met hulle ma, Juanita Beukes (49), in ‘n motorongeluk gesterf.
Die ongeluk waartydens die Beukes-gesin in hulle motor en ‘n minibus betrokke was, het by ‘n kruising van die R312 en R304 in Fisantekraal, naby Durbanville, plaasgevind. Dit is volgens ‘n Change.org. profiel as die “kruising van die dood” bestempel.
Hoërskool Durbanville sê in ‘n plasing op sosiale media hul skool se vlag het Maandag halfmas gehang, gange was stil en woorde was min: “Dankie dat julle ons net weer laat besef het hoe kosbaar familie en vriende is en dat ons elke dag voluit moet lewe. Ons gebede gaan aan mnr. Pieter Beukes, die Beukes-familie, vriende en die Durbanville-gemeenskap. Ons bid dat Hy ons almal sal dra in hierdie moeilike tyd. Mag ons altyd hierdie pragtige Durbies in ons harte dra – vlieg hoog Emma, Stephan en mamma Juanita, ons gaan julle mis.”
Volgens Badisa is Juanita Beukes reeds sedert 1998 ‘n maatskaplike werker in hulle diens: “Juanita is reeds sedert 1998 deel van die Badisa-familie, waar sy eers as maatskaplike werker en programbestuurder by Durbanville-kinderhuis gewerk het en in 2003 as Bestuurder Maatskaplike Dienste vir die Badisa-bestuursprogram aangestel is. Sy was passievol oor die lewe, oor haar man, kinders en haar werk. Sy het met haar energie en deernis baie mense se lewens aangeraak en beïnvloed.
Lozanne van Zyl het ‘n Change.org profiel opgestel om genoeg handtekeninge te kry om ‘n verkeerslig en ‘n permanente spoedkamera by die spesifieke kruising waar die ongeluk gebeur het, opgerig te kry.





