VSA. – Die loods en sy medevlieënier van vlug AC8646 – CRJ900 het Sondagaand voor middernag gesterf toe ’n passasiersvliegtuig tydens landing by LaGuardia-lughawe met ‘n brandweerwa op die aanloopbaan gebots het.
Luidens verklarings deur Jazz Aviation LP, wat as Air Canada Express vlieg, en Air Canada Express, was die vlug van Montréal na New York onderweg toe die botsing plaasgevind het. Die vliegtuig het volgens voorlopige inligting 72 passasiers en vier bemanningslede aan boord gehad, hoewel die presiese getalle nog bevestig moet word. Die aantal beseerdes of moontlike verdere sterftes is nog nie bekend nie.
Jazz Aviation LP sê hulle is diep geskok oor die verlies van hulle twee werknemers en ondersteun tans die families en kollegas wat geraak is. Air Canada het ook sy meegevoel uitgespreek en sê nooddienste is op die toneel om beseerdes te behandel, terwyl sommige reeds na plaaslike hospitale geneem is.
Owerhede in die VSA en Kanada ondersoek tans die oorsaak van die ongeluk, met beide die Amerikaanse en Kanadese vervoerveiligheidsrade wat betrokke is.


Bronne: Jazz Aviation LP en Air Canada





