VRYSTAAT. – ‘n Vrouesersant (39) sterk in die hospitaal aan nadat sy op 25 Junie deur vermeende vlugtende rowers raakgeskiet is wat misluk het om ‘n OTM by ‘n vulstasie op te blaas.
Sers. Mahlomola Kareli sê na bewering het vyf gewapende rowers, geklee in balaklawas, omstreeks 01:15 die vulstasie se winkel genader. Drie van die verdagtes is die winkel in en het die kassier glo met ‘n vuurwapen gedreig en forseer om op die grond te lê. Springstof is op die OTM geplaas, maar dit het nie ontsteek nie. Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag geld en sigarette van die toneel te vlug.
Terwyl die verdagtes gevlug het, het ‘n Villiers-hoofwegpatrollievoertuig verbygery. Die verdagtes het op die voertuig geskiet en die sersant in die passasierssitplek gewond. Rugsteun is aangevra, maar die verdagtes het geslaag om weg te kom.
Die sersant is met ‘n skouerwond na ‘n hospitaal gehaas. Villiers-polisie het sake van sakeroof, poging tot moord en poging om ‘n OTM op te blaas, geregistreer. Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.
Enigiemand met inligting kan sers. Tauru Majoe by 071 094 0570 bel.





