VRYSTAAT. – Sello Peter Motlane (34) is Dinsdag effektief 15 jaar deur die hooggeregshof tronk toe gestuur, nadat Joyce Lindiwe Motseki (27) aan kopbeserings gesterf het nadat hy haar aangerand het.
Sers. Martin Xuma sê die beskuldigde en die oorledene het in Seksie D in Botshabelo saamgewoon. Op 31 Desember 2022 het Motseki na ‘n vriendin se huis gevlug nadat ‘n argument tussen hulle uitgebreek het. Die beskuldigde het haar gesoek en sy is weer na ‘n ander vriendin toe sodat hy haar nie in die hande kon kry nie.
Hy het haar wel die aand van 1 Januarie opgespoor. Sy het probeer om weg te hardloop en het geval, waarna die beskuldigde haar geslaan en geskop het. Die gemeenskap het hulp ontbied. Motlane is op 2 Januarie in hegtenis geneem. Motseki het vyf dae later vanweë kopbeserings in die hospitaal gesterf.
Die moordsaak is deur speur.sers. Molahloe Maqekoane ondersoek.





