Voorbereiding vir matriekafskeid eindig tragies

Lees ook :

Foto: Doré du Toit FB

VRYSTAAT. – Doré du Toit (44) ‘n inwoner van George, het Vrydag tragies gesterf toe sy en haar twee dogters onderweg na Betlehem in die Vrystaat in ‘n motorongeluk betrokke was.

Kapt. Loraine Earle sê Betlehem-polisie is omstreeks 14:45 van die ongeluk op die N5-pad naby Lavender Hill ingelig.

“Twee voertuie het met mekaar gebots en een het omgeslaan.”

Earle sê van die vier insittendes van die een voertuig het slegs geringe beserings opgedoen. In die ander voertuig was Du Toit vasgekeer. Sy is met die aankoms van nooddienspersoneel op die toneel dood verklaar. Beide die ander passasiers is ernstig beseer en is na Dihlabeng-hospitaal geneem.

Earle sê ‘n saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.

Du Toit en haar twee dogters, Dorijke, (21) en Evané (18), ‘n matriekleerling van Hoërskool Witteberg, het vir laasgenoemde se matriekafskeid op Lavender Hill voorberei. Hulle hare was pas gedoen en hulle was onderweg na ander voorbereidings toe die ongeluk gebeur het.

Die oorledene het ‘n jonger seun.

Du Toit het op 8 Augustus die volgende verjaardagwens aan Dorijke op sosiale media gemaak: “21 jaar…..ek onthou jou vandag as my klein dogtertjie. Ek bewonder jou vir die sterk vrou wat jy geword het. Jy is my kosbaarste besitting. Weet net jy is geliefd, meer as wat jy ooit sal besef. Geluk my liefste Poenie kind!!!!”

Op 3 Januarie het Du Toit dié boodskap op haar jongste dogter se verjaardag gedeel: “My dogter Evanè, op jou 18de verjaardag…. ✨️“My kind, want die berge kan padgee en die heuwels verdwyn, maar die liefde vir jou sal nooit verander nie. My verbond van vrede sal nooit gebreek word nie”….so sê die Here jou God wat Hom oor jou ontferm.✨️ -JESAJA 54:10 – Mamma is baie lief vir jou my kind. Geluk met jou verjaardag!!!”

Du Toit se Facebook wemel van spesiale boodskappe vir haar drie kinders.

Koos JJ Rossouw het die volgende plasing gemaak:

Ons liefste sussie, alles voel nog so onwerklik. Waar begin mens?

Eweskielik is daar hierdie groot leemte, jou grote glimlag en jou pragtige hare.

Min het ek besef wat dit beteken toe ons groet met “sien jou as ek jou sien”. Doors, ons gaan jou baie verlang. Maar jy het vir ons 3 pragtige kinders gelos waarin ons jou elke dag gaan sien. En vir hulle het jy voluit gelewe. Jy was ‘n ma 1000.

Rus nou sag en sien jou wanneer ek jou weer sien.

Bronne: SAPD, Facebook, Caxton Network News

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App