SUID-AFRIKA. – Skole is nou vir vyf weke aan die gang. Saam met die akademie het die meeste buitemuurse aktiwiteite by laer- en hoërskole afgeskop. Die meeste kinders wil aan so veel as moontlik aktiwiteite deelneem omdat hulle van alles hou, niks wil mis nie, of nie weet waar hulle talent eintlik lê nie.
’n Oorlaaide program veroorsaak egter dat Boetie nie genoeg slaap kry nie, Sussie sukkel om haar oë in die kerk oop te hou en Ma moet smiddae haar geduld met die heen-en-weer-ryery behou. Hier is nuttige wenke om te voorkom dat jou kind se buitemuurse program oorlaai word.
Wenk 1:
Moet geen druk op jou kind plaas om ’n aktiwiteit te doen of te kies nie. Op so ’n manier sal jou kind bemagtig voel om self sy of haar passie te vind en dan eienaarskap vir die aktiwiteit neem.
Wenk 2:
Doen navorsing oor die finansiële implikasie van die item. Sommige sport- en kultuurgroepe gaan op toere of het sekere toerusting nodig. Oorweeg eers al die kostes en besluit of dit by julle begroting inpas. Dalk sal dit die middae rustiger maak as daardie duur aktiwiteit geskrap word.
Wenk 3:
Vra jou kind waarom hy of sy aan sekere aktiwiteite wil meedoen. Partykeer doen hulle dit net omdat vriende dit doen en hulle nie “uit” wil voel nie. Indien dit die rede is, gesels met jou kind en laat hy of sy rede insien.
Wenk 4:
Stel saam met jou kind ’n weeklikse prioriteitslys op waarin julle tyd vir akademie, rus en buitemuurse aktiwiteite uiteensit.
Wenk 5:
Monitor jou kind op ’n gereelde basis. Terwyl een kind die pas van ’n besige skedule met talle bedrywighede kan volhou, sal ’n ander kind makliker uitbrand. Ken jou kind en pas die aktiwiteite daarvolgens aan.
Buitemuurse aktiwiteite is voordelig vir jou kind. Daar leer hulle verantwoordelikheid, dissipline en dit dra by tot ’n goeie selfbeeld. Sorg egter dat jou kind genoegsame rus kry. Dit is jou verantwoordelikheid as ouer om jou kind te help om balans te hou.
Bronne: iMom, Tenney School, Child Mind Institute