WES-KAAP. – Mlandeli Abednico Nyuka is in die Oudtshoorn-landdroshof tot vyf jaar direkte tronkstraf vir seksuele aanranding van ‘n werknemer in sy kantoor gevonnis.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê dit is Nyuka se tweede skuldigbevinding en vonnisoplegging van seksuele aanranding met dieselfde modus operandi.
Nyuka het die werknemer na sy kantoor geroep en die deur gesluit. Hy het eers oor werksbevordering gepraat en het daarna die klaagster se rok opgetel en onbehoorlik, sonder toestemming, aan haar geraak. Die telefoon het gelui en die slagoffer kon vlug.
Ntabazalila sê Nyuka het regdeur die verhoor die beweringe ontken en gesê die klaagster is deel van ‘n faksie van hul Saamstaan– politieke party wat hom uit die party verwyder wou hê. Volgens hom het die slagoffer seksuele gunsies aangebied vir wat hy al vir haar gedoen het. Sy het dit ontken.
Die hof het die slagoffer en die persoon aan wie sy eerste die misdaad gerapporteer het as geloofwaardige getuies bevind, maar die teenoorgestelde is van Nyuka gesê. Daar is bevind hy het sy senioriteit vir seksuele aanranding misbruik en hy is skuldig bevind.
Met die inligting van die vorige dossier in die hand is Nyuku as ‘n “seksuele roofdier” beskryf wat sy mag misbruik het. Hy is tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis.





