Voormalige kaptein van Valke 11 j. tronk toe

Lees ook :

Foto: Crime In SA X

WES-KAAP. – Esmeralda Bailey (56), ‘n voormalige kaptein van die Valke, verruil haar blou uniform vir ‘n oranje oorpak nadat sy aan korrupsie, besit van dwelms en vier aanklagte van regsverydeling, asook die verlies van ‘n vuurwapen, skuldig bevind is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die voormalige polisielid is in Bellville se kommersiële misdaadhof tot 11 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Bailey sal onthou word vir die ondersoek na en vonnisoplegging van Dina Rodriques wat baba Jordan Leigh Norton op 15 Junie 2005 laat vermoor het.

Tydens die verhoor het aan die lig gekom inligting is ontvang van ‘n persoon wat polisie-uniforms, vuurwapens en ammunisie verkoop. ‘n Lokval is gestel en ‘n polisie-agent het in ruil vir R4 500 ‘n rooi sak wat ‘n uniform en ammunisie bevat het, in ontvangs geneem. In die sak was ‘n polisiepet, glimbaadjie, ‘n paar polisiesokkies, ‘n polisiehemp, twee polisiebroeke en verskillende tipes ammunisie. Bailey se medebeskuldigde, Diedericks, is in hegtenis geneem en het beken hy het die uniform vir Bailey verkoop, waarna sy in hegtenis geneem is.

Bailey was as polisielid ten volle bewus daarvan dat dit ‘n kriminele oortreding is om ‘n polisie-uniform wat aan haar uitgereik is, te verkoop.

Sy is verder ook vir die besit van dwelms gearresteer toe tik in haar besit gevind is. Met die regsverydelingsake het Bailey ‘n dossier van ‘n lid van die batebeslagleggingseenheid gevat, wat op 13 Desember 2011 tydens deursoeking saam met ander bewysstukke van die saak in haar huis gekry is. ‘n Dossier van ‘n gewapende roof en kaping, en nog ‘n dossier van ‘n gewapende roof, is vroeër in haar huis gekry.

Bailey het volgens Ntabazalila ‘n selfoon wat as bewysstuk ingehandig is, onder voorwendsel dat die inligting afgelaai moet word, uitgeboek, maar dit nooit teruggeboek nie. Die selfoon is weer in besit van die staat. Die vuurwapen het sy vir baliistiese toetse by Kensington-polisiestasie uitgeboek om dit na Plattekloof te stuur.

Adv. Jonas vir die staat het 11 persone laat getuig. ‘n Persoon wat in die ballistiese afdeling werk en een wat by Kensington-polisiestasie met bewysstukke werk, was onder die getuies. Met hulle getuienislewering is bewys Bailey het die vuurwapen uitgeboek, na die ballistiese afdeling geneem en ontvang, maar nooit by die polisiestasie teruggeboek nie.

Ntabazalila sê Bailey is 11 jaar direk vir korrupsie gevonnis. Op die aanklag van dwelmbesit het sy ‘n vonnis van ses maande direkte tronkstraf, in geheel vir vier jaar opgeskort, ontvang. Vir vier aanklagte van regsverydeling is sy twee jaar tronkstraf en vir die verlies van die vuurwapen 36 maande gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, wat beteken Bailey sal 11 jaar in die tronk deurbring. Sy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.


Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief