GAUTENG. – Zizi Kodwa, voormalige minister van sport, kuns en kultuur, en Jehan Mackay, sakeman, het gister vir beweringe van korrupsie in die Johannesburgse gespesialiseerde misdaadhof verskyn. Beide is op R30 000 borg vrygelaat.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigdes het op aanklag van die oortreding van die wet op die voorkoming en bekamping van korrupte aktiwiteite en korrupsie in die hof verskyn. Die saak is tot 23 Julie uitgestel sodat die staat die inhoud van die dossier aan die beskuldigdes bekend kan maak.
Die staat beweer Kodwa het as woordvoerder vir die ANC van April 2015 tot Februarie 2016 direkte betalings en luukse akkommodasie ter waarde van meer as R1.6 m. van Mackay, direkteur van Tactical Software Systems en voormalige senior bestuurder van Enterprise Outsourcing Holdings, ontvang. Die betalings is glo gemaak omdat die belange van Mackay, TSS en EOH in staatsverkrygingsprosesse bevorder is.
SITA, verantwoordelik vir IT-dienste van die staat, het in Februarie 2015 ‘n tender ter waarde van R360 m. geadverteer vir die aanstelling van twee afsonderlike diensverskaffers vir die regering vir vyf jaar. Nege maatskappye, insluitend EOH, het die kortlys vir die tender gehaal. EOH is volgens kommunikasie tussen die beskuldigdes gediskwalifiseer, waarna Mackay Kodwa se ingryping gevra het. Dit het glo tot die kansellasie van die tender gelei.
Mjonondwane sê die saak spruit voort uit aanbevelings deur hoofregter Raymond Zondo in deel 4 van sy verslag oor beweerde staatskaping. Dié deel handel oor korrupsie en bedrog waarby die openbare sektor en staat na bewering betrokke is. Zondo het aanbeveel Mackay en Zodwa moet ondersoek word. Hy het ook aanbeveel pres. Cyril Ramaphosa moet Kodwa se posisie as adjunkminister van staatsveiligheid heroorweeg.
Die saak van die NVG spruit voort uit bevindinge en aanbevelings van die staatskapingondersoek, waartydens ‘n taakspan in November 2022 gestig is. Die taakspan bestaan uit verskeie wetstoepassingsagentskappe, insluitend die spesiale ondersoekeenheid, die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek en die finansiële intelligensiesentrum.
Mjonondwane sê daar sal voortgegaan word om volgens die Zondo-kommissie se verslae ondersoeke te lei en te monitor, om te verseker dat beweerde staatskapers deur geregtigheid in die gesig gestaar word.
Hierdie saak bou voort op die kommissie se verslae van hoëprofielaangeleenthede betreffende staatskaping en korrupsie en die skuldigbevinding van honderde regeringsamptenare vir korrupsie oor die afgelope vyf jaar.
Die beskuldigdes is deur die Valke in hegtenis geneem.
Kodwa het na gister se hofverskyning sy bedanking as minister ingedien.

