’n Voormalige ondersoeker in die moord op sokkerspeler Senzo Meyiwa is Donderdag beroof en byna ontvoer terwyl hy in ’n staatsvoertuig in Lombardy-Oos, Johannesburg, gery het.
Lees ook: Senzo Meyiwa-moordsaak gaan voort
Genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die SAPD, het bevestig geen sensitiewe dokumente of bewyse is geroof nie.
Die Meyiwa-saak is tans in die hof en kopieë van die dokumente is so vroeg soos 2022 aan die verdedigingspan uitgereik.
Die voormalige ondersoeker is Donderdagaand net na middernag deur ’n groep verdagtes gevolg wat hom in Lombardy-Oos gedwing het om te stop en hom oorrompel het. Hulle het hom in hulle voertuig se kattebak probeer indwing, maar hy het terugbaklei en ontsnap.
Sy staatsvuurwapen met ammunisie is geroof, asook ’n polisiebaadjie, ’n skootrekenaarsak met ’n skootrekenaar, geheuestafie en kopieë van die dokumente verwant aan die Senzo Meyiwa-saak.
Masemola het gesê die oorsaak van die aanval word ondersoek en die verdagtes word gesoek. Dit is onbekend of die aanval met die Senzo Meyiwa-saak verband hou.
Meyiwa is in Oktober 2014 in Vosloorus by sy meisie Kelly Khumalo se huis dood na ’n beweerde roof verkeerd geloop het. Vyf verdagtes is vir sy dood in hegtenis geneem. Die moordverhoor is steeds aan die gang.
Bronne: SAPD
Lees ook: Senzo Meyiwa-moordsaak gaan voort





