OOS-KAAP. – ‘n Voormalige sersant, Dumile Elephant Ndlovu (51), is Vrydag deur die Bisho-hooggeregshof vir moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.
Lizzy Suping, van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), sê in ‘n verklaring Ndlovu het in April 2024 sy vrou ná bewerings van ontrouheid aangerand. Die vermeende minnaar is buite sy huis doodgeskiet. Daarna het Ndlovu sy vrou na ’n afgeleë plek geneem en verder aangerand. Sy kon daarna vlug en mediese hulp by ‘n hospitaal kry. .
Ndlovu is tot 15 jaar tronkstraf vir moord en vyf jaar vir aanranding gevonnis. Die hof het bepaal dat twee jaar van die aanrandingsvonnis gelyklopend met die moordvonnis uitgedien word.
Opod het die uitspraak verwelkom.





