NOORD-KAAP. – Calvin Brown (45), ‘n voormalige polisiesersant, is deur die Springbok-streekhof lewenslank tronk toe gestuur nadat hy twee minderjariges verkrag het.
Mojalefa Senokoatsane sê Brown was aan die maatskaplike-misdaadvoorkomingseenheid verbonde. Hy was verantwoordelik om met kinders wat gedragsprobleme openbaar te werk. Buiten die twee verkragtingsaanklagte het Brown ook op klagtes van aanranding en regsverydeling tereg gestaan.
In Oktober 2021 is ‘n 17-jarige meisie wat na haar pa by die polisieklubhuis gaan soek en die hulp van die sersant gevra het, in die badkamer verkrag.
Op 3 Junie 2023 het ‘n 13-jarige slagoffer van die skool se atletiekoefening gekom en water van die polisesersant, wat in die Namakwa-area bekend is, gevra. Hy het die kind na sy huis geneem en eers saam met ‘n vriend gery om drank te gaan koop. Met die terugkeer by sy huis het hy die slagoffer na sy kamer gedwing en haar verkrag.
‘n Saak is oopgemaak, waarna die beskuldigde gearresteer en op twee aanklagte van verkragting en twee van regsverydeling tereggestaan het. Brown het selfs een van die slagoffers met geskenke probeer omkoop om haar verklaring te verander en te sê dit is ‘n vals verklaring.
Geen wesenlike en oortuigende omstandighede is deur die hof gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.
“Die beskuldigde het die ampseed as polisiebeampte verraai. Die hof het die beskuldigde vir die verkragting van die 13-jarige slagoffer lewenslange tronkstraf, 10 jaar direkte tronkstraf vir die verkragting van die 17-jarige slagoffer en op beide aanklagte van regsverydeling tot 5 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Op aanklag van aanranding is die beskuldigde onskuldig bevind.”
Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Die beskuldigde is ongeskik om met kinders te werk en is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Brown se naam sal ook in die nasionale register van seksoortreders aangebring word.





