Voormalige polisiesersant vir verkragting van tienermeisie gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Thembalethu Gqeku (50), ‘n voormalige polisiesersant, is tot 20 jaar tronkstraf deur die Qumrha-streekhof vir die verkragting op 8 Augustus 2022 van ’n 17-jarige meisie in die speurderskantoor by die Kei Mouth-polisiestasie gevonnis.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die NVG, sê Gqeku is skuldig bevind, maar hy het ‘n siviele eis van R3.5 m. vir kwaadwillige vervolging teen die NVG ingestel, nadat die saak aanvanklik teruggetrek was. Die saak is teruggetrek omdat die slagoffer haarself as gevolg van trauma beleef nie na behore kon verduidelik nie. Sy het sielkundige en kliniese terapie deurgaan voordat die saak weer op die hofrol geplaas is.

Gqeku het die slagoffer onder die voorwendsel dat hy ’n bykomende verklaring van haar in ’n saak van huishoudelike geweld teen haar voormalige kêrel moes afneem, by ’n winkel in die dorp opgelaai en haar in die speurderskantoor verkrag. Die slagoffer het hom met ’n leë bottel oor die kop geslaan en na die aanklagtekantoor gehardloop waar sy om hulp geskree het. Hoewel sy die beweerde oortreder geïdentifiseer het, het Gqeku se kollegas, insluitend die destydse waarnemende stasiebevelvoerder, versuim om ’n arrestasie uit te voer. Gqeku is eers tien dae later deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) in hegtenis geneem.

Tydens die verhoor het Gqeku onskuldig gepleit en beweer dat hy deur die slagoffer aangerand is, terwyl sy glo onder die invloed van dwelms was. Thango Pangalela, die senior staatsaanklaer in die saak, het die getuienis van die slagoffer, ’n polisieman wat aan diens was en ’n mediese deskundige van die Cecilia Makiwane-hospitaal se Thuthuzela-sorgsentrum gelei. Deur doeltreffende kruisondervraging is die beskuldigde se weergawe weerlê. Die mediese verslag wat deur die staat voorgelê is, het enige gebruik van dwelms deur die klaagster uitgesluit.

Landdros Joseph Govuza het tydens vonnisoplegging met die staat saamgestem dat die verswarende omstandighede van so ’n aard is dat ’n swaarder vonnis geregverdig is. Hy het uitgelig dat Gqeku ’n staatsvoertuig gebruik het, die slagoffer na ’n polisiekantoor geneem het en haar daar verkrag het terwyl ander mense in die gebou was. Die hof het bevind dat die beskuldigde nie berou getoon het nie en dat sy optrede op die dag uiters skokkend was.

Gqeku het intussen die polisiediens verlaat en as ‘n veiligheidswag gewerk totdat hy skuldig bevind is. In ‘n slagofferimpakverklaring, wat deur Vuyelwa Beyaphi, die hofvoorbereidingsbeampte voorberei is, het die slagoffer aangedui dat sy nou ’n haat teenoor die polisie ontwikkel het en nie eens hul teenwoordigheid kan verdra nie.

Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap, het die vervolgingspan, sorgsentrumpersoneel, hofvoorbereidingsbeamptes, Ipod-ondersoekers en die slagoffer vir hul deeglike insamel en aanbieding van getuienis in die hof geprys.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief