GAUTENG. – Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die voormalige speaker van die NV, het vanoggend op aanklagte van korrupsie en geldwassery van ongeveer R4,5 m. in die Pretoria-landdroshof verskyn.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, sê Mapisa-Nqakula is op R50 000 borg vrygelaat en die saak is tot 4 Junie uitgestel. Mapisa-Nqakula moet haar paspoort aan die ondersoekbeampte in die saak oorhandig en mag geen direkte of indirekte kontak met staatsgetuies maak nie.
Die ondersoekdirektoraat van die NVG het na ‘n ondersoek 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery teen Mapisa-Nqakula gebring. Dit volg nadat beweringe gemaak is dat die beskuldigde gedurende die tydperk wat sy die minister van verdediging was glo R4.5 m. aangevra, en R2.1 m. daarvan in kontant ontvang het.
‘n Deursoekings-en-beslagleggingsoperasie is op 19 Maart deur die ondersoekdirektoraat van die NVG by die beskuldigde se huis uitgevoer. Op 2 April het die hooggeregshof in Pretoria die beskuldigde se aansoek vir ‘n interdik teen haar inhegtenisneming met koste van die hand gewys. Mapisa-Mqakula het haarself vanoggend aan die owerhede oorgegee, waarna sy in die hof verskyn het.