Nosiviwe Mapisa-Nqakula het in die hooggeregshof in Pretoria, waar sy op aanklagte van korrupsie en geldwassery voorgekom het, aansoek gedoen om gedeeltes B en C van die saakdossier aan haar openbaar te laat maak.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (Idac) van die NVG, sê die saak teen die voormalige speaker is tot 5 Desember uitgestel om die aansoek vir verdere openbaarmaking in die dossier aan te hoor.
‘n Polisie-saakdossier bevat afdelings A, B, en C aan die binnekant. Afdeling A bevat byvoorbeeld verklarings en bewyse, B bevat korrespondensie en C bevat die ondersoekdagboek van die ondersoek.
“Die staat beoog om die aansoek te opponeer.”
Die voormalige speaker staan op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery tereg.
“Hierdie aanklagte hou verband met haar ampstermyn tussen 2016 en 2019 toe sy die minister van verdediging was, waartydens sy na bewering ongeveer R4,5 m. van Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu, wie se maatskappy ‘n diensverskaffer aan die departement was, aangevra en ontvang het. R2,1 in kontant is ontvang.”
Mapisa-Nqakula se borg van R50 000 is tot die volgende hofverskyning verleng.





