OOS-KAAP. – Luthando Nomandindi (33) het op 22 Julie 2025 in die Mthatha- gespesialiseerde handelsmisdaadhof op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente verskyn. Nomandindi het nooit met ‘n LLB-graad gegradueer nie en glo vervalste kwalifikasies gebruik om as aspirantaanklaer en later as openbare aanklaer by die nasionale vervolgingsgesag aan te sluit.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Nomandindi het tussen 2010 en 2016 vir die graadkursus aan Walter Sisulu Universiteit ingeskryf, maar nie die kursus suksesvol deurloop nie. Gedurende 2020 het hy glo kwalifikasies vervals om by die NVG aan te sluit. ’n Vals bywoningsverslag van Legal Education and Development (L.E.A.D.) is glo ook ingedien as deel van sy aansoek om in 2021 tot die NVG se aspirant-aanklaerprogram toegelaat te word.
Bevordering as openbare aanklaer het gevolg. Met dieselfde dokumente het Nomandindi na bewering vir bevordering na streekhofvlak aansoek gedoen. Hy het die kortlys gehaal, maar het bedank toe die NVG oorspronklike sertifikate versoek het. Die ondersoek het bevind dat die NVG meer as R1.1 miljoen aan salarisuitbetalings verloor het. Nomandindi is Dinsdag in hegtenis geneem, waarna hy in die hof verskyn het.
Nomandindi is op borg van R5000 vrygelaat. Die saak is vir bekendmaking van die dossier se inhoud tot 18 Augustus uitgestel. Die ondersoek duur voort.





