VRYSTAAT. – Mokete Jacob Mokoena (58), die voormalige waarnemende bevelvoerder van Tweeling-polisiestasie, is tot drie jaar direkte tronkstraf vir veediefstal gevonnis.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê Mahlaba se medebeskuldigde, Lefa Elias Mahlaba (44), is tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Op die nag van 21 – 22 Maart 2021 was Mokoena, ook as sigbare polisiëringsbevelvoerder, in volle uniform in ‘n gemerkte polisievoertuig aan diens. Hy het Mahlaba, ‘n lid van die gemeenskap, gevra om hom te vergesel, terwyl hy patrollies ry.
Mahlaba is in die donker by die plaas van Danie Muller, Speekhoutboom, afgelaai waar vyf skape met tou vasgebind is. Mokoena het later na die toneel teruggekeer, maar is deur ‘n privaat veiligheidsmaatskappy opgemerk. Mokoena en Mahlaba het in die polisievoertuig gevlug, maar is deur die veiligheidsbeamptes ingehaal. Terug by die misdaadtoneel is Mokoena se polisieflits, met die polisiekenteken op, naby die geslagte karkas van ‘n skaap aangetref. Nog ‘n skaap was reeds doodgemaak en drie ander wat met tou vasgemaak is, is lewendig aangetref.
Senokoatsane sê Mokoena het ontken die polisie-uitgereikte flits behoort aan hom, maar het later eienaarskap erken. DNS-toetsing het bloed op Mahlaba se klere met dié van die skaap bevestig. AVL-satellietopsporing, waarmee polisievoertuie toegerus is, het bevestig daar is vier keer die betrokke nag op of naby die misdaadtoneel stilgehou.
Die NVG het die skuldigbevinding en die vonnisoplegging verwelkom.





