KWAZULU-NATAL. – ‘n Vragmotorbestuurder (53) is Woensdag op die N3, naby Westville, in ‘n beweerde padwoede-voorval in die been geskiet.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die vragmotorbestuurder se werkgewer het omstreeks 15:20 hulp van die diens gevra. Met ‘n oproep aan die assistentbestuurder is vasgestel die Volvo-vragmotor was met ‘n tweede vragmotor in ‘n kleinerige ongeluk betrokke. Beide vragmotors het langs die hoofweg stilgehou en ‘n woordewisseling het glo tot die skietvoorval gelei. Die gewonde bestuurder het daarna self twee skote geskiet, terug in sy vragmotor geklim en weggery.
Rusa sê insleepdiensoperateurs het die insident gade geslaan.
Rusa-reaksiebeamptes het die vragmotor by ‘n afrit opgespoor, waarna die gewonde bestuurder mediese hulp van ‘n privaat ambulansdiens gekry het. Die Rusa-reaksiebeamptes is ingelig die bestuurder van die ander vragmotor het hom aan die polisie oorgegee.





