OOS-KAAP. – Theresa Minnie (73) van Fairbridge Heights, Kariega, is vanoggend (Maandag) omstreeks 05:30 ontvoer.
Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder het die ontvoering aan Nuusflits bevestig. Volgens die polisie is daar tot dusver geen losprys geëis nie. Die polisie doen ’n beroep op die publiek om enige relevante inligting rakende die voorval aan hulle te verskaf.
Volgens ‘n sosialemediaplasing van Sugneé van der Vyver op Facebook was Minnie besig om haar huis te verlaat toe sy deur verdagtes in ‘n ‘n silwerkleurige Polo-luikrug ontvoer is. Rdl. Bill Harrington van die VF Plus in Nelson Mandelabaai het in ‘n verklaring gesê die gemeenskap is deur die ontvoering geskok. Hy het ook gesê Nelson Mandelabaai het ‘n ernstige probleem met ontvoerings en dat statistieke aandui daar is in die afgelope jaar al meer as 25 ontvoerings in die streek aangemeld.
Lees die volledige verklaring hier onder:
ONTVOERING VAN 73-JARIGE VROU IN UITENHAGE/KARIEGA SKOK GEMEENSKAP EN VF PLUS.
Onlangse gebeure in Kariega het weer die ernstige probleem van ontvoerings in Nelson Mandelabaai (NMBM) aan die lig gebring, nadat ’n 73-jarige vrou, Theresa Minnie, vroeër Maandagoggend in Fairbridge Heights ontvoer is. Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Andre Beetge, is Theresa omstreeks 5:30 vm. met geweld in ’n silwer Polo-hatchback gesleep terwyl sy haar huis verlaat het. Tot dusver is geen losprys geëis nie, en die SAPD doen ’n dringende beroep op die publiek om inligting te verskaf wat kan help om die saak op te los..
Die VF Plus beklemtoon reeds vir ’n geruime tyd dat daar te veel ontvoerings plaasvind in die NMBM-gebied. Statistieke wys dat in die afgelope jaar alleen al meer as 25 ontvoerings in die streek aangemeld is, wat ’n kommerwekkende toename in hierdie tipe misdaad aandui. Hierdie geweldsmisdade veroorsaak groot vrees en onsekerheid onder inwoners, veral onder die bejaardes wat dikwels die mees kwesbares is.
Die VF Plus maak ’n dringende beroep op die SAPD om nie net die skuldiges in hierdie onrusbarende saak te arresteer nie, maar ook om die misdadige sindikaat wat hierdie ontvoerings dryf, te ontbloot en af te breek. Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe nie hul basiese reg tot veiligheid kan geniet nie. Ons herhaal ons eis vir ’n beter gefasiliteerde en effektiewe polisieteenwoordigheid in NMBM, met voldoende hulpbronne om misdaad daadwerklik te bekamp. Die samewerking tussen die polisie en die gemeenskap is noodsaaklik om sulke misdade te keer en om ’n veiliger omgewing vir almal te skep. Veiligheid is ’n grondwetlike reg en die VF Plus sal aanhou veg om te verseker dat elke inwoner van Nelson Mandelabaai sonder vrees kan leef..
Rdl. Bill Harington
VF Plus – Nelson Mandelabaai-metro





