WES-KAAP. – ’n Vrou (55) is Dinsdagaand beseer toe vier onbekende mans haar omstreeks 20:20 in haar huis op ’n plaas naby Wolseley aangeval het.
Kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die polisie het ’n klagte van ‘n huisroof gekry. Met aankoms op die toneel was veiligheidsdienste en beamptes van die snelwegpatrollie reeds op die toneel. Die verdagtes het die vrou, wat in haar sitkamer gesit het, aangeval. Haar hond het die verdagtes probeer verjaag en is in die proses gesteek.
Die vrou het beserings aan haar linkeroog en die linkerkant van haar kop opgedoen. Sy is vir behandeling per ambulans na ’n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer. Die verdagtes het met die vrou se handsak, waarin haar persoonlike besittings en selfoon was, van die toneel gevlug. Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word gevra om speur.sers. Cashwell Abrahams by 079 894 0195 te bel.





