Vrou en kind se ontbinde liggame in huis ontdek

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

VRYSTAAT. – Twee ontbinde liggame, vermoedelik van ‘n ma en haar kind, is Oujaar in ‘n huis naby Lindley ontdek toe ‘n onaangename reuk en vlieë suspisie gewek het.

Adj.off. Mmako Mophiring sê die polisie is omstreeks 22:00 nadat bure die reuk en vlieë opgemerk het, ontbied. Met aankoms by die huis was dit gesluit en daar is na die eienaar gesoek. Na bewering het hy nie meer op die perseel geslaap nie en sy voertuig was buite die hek parkeer. Die eienaar het glo geweier om die deur wat gesluti was oop te maak, waarna die polisie deur ‘n venster gekyk en op ‘n ontbinde liggaam onder ‘n kombers op die vloer afgekom het. Die liggaam van ‘n kind was ook onder die kombers.

Mophiring sê volgens voorlopige ondersoek kan die liggame moontlik dié van ‘n familie in Mamafubedu, naby Petrus Steyn, wees. ‘n Ma het aangemeld haar dogter en kleindogter het na bewering op 22 Desember die pa van die kind gaan besoek en hulle is nooit weer gesien nie. DNS-monsters is geneem om vas te stel of die onherkenbare ontbinde liggame wel dié van die ma en dogter kan wees. ‘n Nadoodse ondersoek sal bepaal wat die oorsaak van die twee persone se dood is.

Volgens Mophiring sal die verdagte wat gearresteer is, vandag op aanklag van dubbelmoord in die Reitz-landdroshof verskyn.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief