Vrou en man in hegtenis na hulle glo kaping en ontvoering fabriseer

Lees ook :

Foto: Reaction Unit South Africa

KWAZULU-NATAL. – ‘n Getroude vrou (42) van Dawncrest in Verulam en die man met wie sy glo in ‘n verhouding is, is gearresteer nadat hulle glo ‘n kaping en ontvoering gefabriseer het.

Kol. Robert Netshiunda bevestig aan Nuusflits ‘n vrou wat Donderdag ‘n vals klagte van kaping en ontvoering aangemeld het, is opgespoor en deur die polisie in hegtenis geneem.

“Die vrou het beweer sy is in Verulam gekaap en was in die kattebak van haar motor toegesluit waar sy wonderbaarlik daarin geslaag het om twee stemnotas aan haar man te stuur. Intelligensie het ontbloot dat die vrou voor haar denkbeeldige kaping en ontvoering tyd by ‘n casino deurgebring het.”

Netshiunda sê die vrou is by oornag-akkommodasie in Newcastle opgespoor en toe sy besef die polisie is op haar hakke, is sy Saterdag na Newcastle-polisiestasie toe. Sy het beweer haar ontvoerders het haar langs die pad afgelaai.

“Na verdere ondersoeke is die 42-jarige vrou en haar 55-jarige metgesel, wat deel was van die orkestrasie van haar vals ontvoering en haar ook gehelp het om van haar voertuig ontslae te raak, nadat hy die nag by haar deurgebring het, beide gearresteer en vir regsverydeling aangekla.”

Netshiunda sê die vrou se voertuig is teruggevind en beide sal Dinsdag op aanklagte in die Verlulam-landdroshof verskyn.

Reaction Unit South Africa sê die operasionele sentrum het Donderdag omstreeks 19:30 ‘n oproep van ‘n man gekry wat dringend hulp vra. Hy het glo ‘n WhatsApp-stemnota van sy vrou ontvang wat sê daar is ‘n poging om haar op ‘n agterpad in Rietrivier te kaap. Die man het intussen twee pin drops ontvang wat aangedui het sy vrou beweeg verby Pinetown en toe Wesville, waarna alle kommunikasie verbreek is.

“Die voorval is deur die Rusa-Admin via Facebook en ander sosialemediaplatforms aan die publiek versprei in ‘n poging om die voertuig en die vermiste vrou op te spoor.”

Rusa sê daar is op groot skaal na die vrou begin soek, maar reaksiebeamptes het inligting ontvang van die vrou wat glo in ‘n buite-egtelike verhouding is en die kaping fabriseer het om saam met die ander man te kan wees.

“Beamptes het ‘n skermskoot van ‘n vrou wat regshulp versoek om ‘n egskeiding te bekom, ontvang. Die versoek op ‘n openbare platform is glo van die “ontvoeringslagoffer.” Verdere inligting is ook ontvang dat die vrou ure nadat die kaping aangemeld is, alleen in haar motor gesien is. ’n Facebook-vriend het later laat weet die vrou was ’n dag ná haar ontvoering glo op Facebook Messenger aktief.”

Rusa sê aangesien die inligting nie dadelik bevestig kon word nie, is die soektog voortgesit. Die inligting is met rolspelers gedeel. Die Rusa-helikopter het op versoek van wetstoepassingsagentskappe opgestyg om na die vrou se voertuig te soek.

“Sy is Saterdagoggend deur wetstoepassers in Newcastle opgespoor en is krimineel aangekla, nadat sy fiktiewe inligting oor die kaping/ontvoering verskaf het. Haar 55-jarige minnaar is in hegtenis geneem nadat hy die nommerplate van haar voertuig verwyder en verlate gelos het in ‘n poging om die ondersoekers te mislei. Beide verdagtes het toe by ‘n lodge ingeboek. Reaksiebeamptes was nie teenwoordig toe albei verdagtes opgespoor is nie.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App