’n Besigheidsvrou van Roodepan het R22 000 se spysenierstoerusting verloor nadat ’n verdagte agt groot kookpotte gehuur en dit nie weer teruggebring het nie.
Rodney Krotz, haar seun, het FiND iT gekontak nadat die verdagte na meer as ’n jaar nog nie in hegtenis geneem is nie.
Die verdagte het homself as George bekend gestel en het ook nie sy regte selfoon- of registrasienommer gegee toe hy verlede jaar in Meimaand die potte gehuur het nie, verduidelik Rodney.
Voorts sê hy die polisie wou nie ’n saak open nie. Hulle het toe voortgegaan om self na die potte te gaan soek. Luidens Rodney het hulle self ’n jaar later drie van haar potte by ’n begrafnis in Roodepan opgespoor.
Hulle het die polisie ontbied en drie potte teruggekry. Na bewering het die persoon wat die gesteelde goedere gekoop het sy ma se woning besoek en haar gedreig, sê Rodney.
Rodney en sy ma het die Roodepan-polisiekantoor vir ’n tweede keer besoek en ’n saak is geopen en gedurende dié tyd het sy ma ’n beroerte gekry. Rodney glo dit is weens stres as gevolg van hoe die polisie die saak hanteer het. Hy sê dit is onregverdig.
Sers. Majang Skalkie, woordvoerder van Roodepan-polisie, sê die polisie soek steeds na die verdagte. Die ondersoek duur voort.