WES-KAAP. – Shana Balie (25) se liggaam is op 26 Desember 2024 in ‘n vlak graf by haar kêrel (33) se huurhuis in Wallacedene in Kraaifontein ontdek. Sy is die laaste keer op Kersdag lewendig gesien.
Brig. Athlenda Mathe sê die bestuur van die polisie, onder leiding van Tebello Mosikile, die waarnemende nasionale kommissaris, Sindisiwe Chukunga, die minister van vroue, jeug en persone wat met gestremdhede leef, lt.genl. Shadrack Sibiya, die adjunk nasionale kommissaris vir misdaadopsporing, en lt.genl. Thembisile Patekile, die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap het die Bluedowns-hofsaak bygewoon.
Balie se kêrel het haar na bewering vermoor en daarna in ‘n vlak graf begrawe. Die kêrel is gearresteer en van moord aangekla, waarna hy vandag in die hof verskyn het.
Chikunga het die moord veroordeel en vir die maksimum vonnis met skuldigbevinding gevra.
Mathe bevestig die polisie het gedurende 2024 altesaam 29 000 oortreders vir geslagsgeweld gearresteer, waarvan 559 lewenslange tronkstraf ontvang het.
Volgens Woman For Change is die nadoodse ondersoekverslag nog nie bekend nie, maar is Balie na bewering doodgeslaan. Die kêrel het homself glo aan die polisie oorhandig en die moord beken. Balie laat ‘n tweelingsuster en twee kinders agter.