DURBAN, KZN. – ’n Vrou het Saterdag uit ’n minibustaxi gespring toe die kondukteur haar na bewering probeer verkrag het.
Volgens Reaction Unit South Africa het die vroulike student Saterdag by haar kollege in ’n minibustaxi geklim. Die taxi het in die rigting van Durban se sakekern gery en passasiers langs die pad afgelaai.
Nadat die laaste passasier glo uit die voertuig is, het die kondukteur na bewering aangedring dat sy haar selfoon, rugsak en geld oorhandig.
Die vrou het haar na bewering probeer verdedig, maar is na die agterkant van die taxi forseer. Die kondukteur het haar glo probeer verkrag, waarna sy ’n venster uitgeskop en na buite uit die bewegende taxi gespring het.
Sy het kopwonde, sowel as beenwonde opgedoen. Volgens haar het die taxi aanhou ry.
’n Saak is by die SAPD geopen en sy het behandeling vir haar wonde ontvang.
Enigiemand met inligting of wat ’n ooggetuie was, word aangemoedig om Rusa by 086 123 4333 te kontak.
Bronne: Reaction Unit South Africa, Facebook





