WES-KAAP. – Harlene Meyer (49) is Woensdagoggend omstreeks 07:45 op die hoek van Pine- en North Endstrate in Cloetesville doodgeskiet in wat vermoed word kruisvuur van wedywerende bendes is.
Kapt. Frederick van Wyk sê drie verdagtes, van 22, 23 en 31 jaar, sal vandag op aanklag van moord in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.
‘n 31-jarige verdagte is aanvanklik as deel van die ondersoek vir ondervraging ingeneem, waarna inhegtenisnemings gemaak is.
Die motief vir die skietvoorval is deel van die ondersoek.
Dr. Leon Schreiber van die DA in Stellenbosch het die moord ten sterkste veroordeel. Die vrou wat doodgeskiet is, was op pad werk toe. Hy noem voorts die DA het herhaalde kere die groeiende probleem van bendegeweld met die polisie opgeneem. Die munisipaliteit het voorheen grond aangebied om ‘n groter en beter polisiestasie vir die area te bou. Die aanbod is volgens Schreiber nie aanvaar nie.
“Wat daarop dui dat daar min belangstelling van die kant van die SAPD is om polisiëring in Cloetesville te verbeter.”
Schreiber sê Gesie van Deventer, die burgemeester, en Jeremy Fasser, die adjunk-burgemeester, het dadelik na die skietdood van die vrou met die SAPD geskakel. Dit het tot die inhegtenisneming van ‘n verdagte gelei. Terwyl die gemeenskap in vrees lewe, sal Schreiber hom na die nasionale kommissaris wend om in te tree en meer hulpmiddele in Cloetesville te laat ontplooi.
Roger Telemachus, oud-Protea, is die broer van Harlene Meyer wat gesterf het.





