WES-KAAP. – ‘n Plaaslike vrou (35) het Sondagmiddag by Victoriabaai verdrink.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die Wildernis-stasie se diensspan is omstreeks 14:20 vir hulp ontbied. NSRI-lewensredders, wat toevallig vir voor-seisoen opleiding op die strand was, is deur ooggetuies ingelig oor ‘n vrou wat in vlak branders in nood verkeer. Die vrou het saam met ‘n man geswem toe hulle in die moeilikheid beland het. Die man kon self uit die water kom, maar die vrou is bewusteloos in die water gekry. Twee branderplankryers en lewensredders het haar uit die see gehaal en met KPR begin. Ondanks herhaalde pogings deur lewensredders en paramedici is sy op die toneel dood verklaar.
George-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen. Die staatspatologiediens het die liggaam van die vrou oorgeneem. Die presiese oorsaak van haar dood moet nog bepaal word.
Die NSRI het medelye aan die oorledene se familie en vriende betuig.





