VRYSTAAT. – ’n 32-jarige vrou is vanoggend (Saterdag) in ’n verlate gebou in Le Rouxstraat in Theunissen dood aangetref. Sy het verskeie steekwonde aan haar kop en maag gehad. Die polisie ondersoek die voorval as moord en sluit nie die moontlikheid van seksuele aanranding uit nie.
Sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, sê Theunissen-speurders ondersoek die moord nadat die polisie omstreeks 03:40 na ’n moontlike moordtoneel ontbied is. ’n Lid van die buurtwag het hulle na die verlate perseel gewys waar die vrou se liggaam gevind is. Sy is later deur haar naasbestaandes as Nthabiseng Moiloa (32) geïdentifiseer.
‘n Voorlopige ondersoek het getoon dat sy na bewering ongeveer 14 steekwonde opgedoen het. Sy is deur nooddienspersoneel op die toneel dood verklaar. Volgens die polisie het die buurtwaglid moontlike diefstal van koperkabel ondersoek toe hy die liggaam ontdek en die polisie ontbied het.
Die motief vir die moord is nog onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om speur.sers. Nnana Thekiso by 071 442 9742 of 082 301 3028 bel.