GAUTENG. – Twee verdagtes is vanoggend (Saterdag) dood in ’n skietery met beamptes van die taktiese reaksie-eenheid (TRT). Twee ander verdagtes het daarin geslaag om te voet te vlug.
Lt.kol. Isaac Mudau, polisiewoordvoerder, sê die Gauteng-TRT het vroeër vanoggend inligting van die Vrystaat-TRT ontvang oor verdagtes wat na bewering Vrydag by ’n kontant-in-transito-roof in Virginia, in die Vrystaat, betrokke was. Die verdagtes was volgens die inligting onderweg in die rigting van Soweto. Polisiebeamptes het die voertuig wat aan die beskrywing voldoen het, opgespoor en probeer voorkeer. Die insittendes het na bewering op die polisie losgebrand, waarna beamptes teruggeskiet het. Twee verdagtes is noodlottig gewond, terwyl die ander twee gevlug het. Geen polisiebeamptes is beseer nie.
’n 9 mm-pistool en ’n AK-47-aanvalsgeweer, albei sonder reeksnommers, is op die toneel gevind. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is ontbied en die polisie se ondersoek duur voort.

