GAUTENG. – Nadia van den Berg (37) van Garsfontein het Maandag op ‘n aanklag van bedrog ter waarde van R1.1 m. in die Pretoria-landdroshof verskyn.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigde het by Mirfin Valuation Services gewerk. Haar pligte het die prossessering vir betaling aan verskeie kliënte behels. Van den Berg het glo egter vanaf 2022 tot 2024 haar eie bankbesonderhede gebruik. ‘n Kliënt het die maatskappy van ‘n onsuksesvolle oorplasing verwittig en nadat fakture nagegaan is, is die beskuldigde gekonfronteer. Sy is ontslaan en ‘n saak is op 29 Augustus teen haar aanhangig gemaak en deur die polisie ondersoek.
Van den Berg is op 27 Desember by haar huis in hegtenis geneem. Die saak is in die hof tot 3 Januarie 2025 vir ‘n borgaansoek uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding.