INTERNASIONAAL. – Julia Wandelt, die vrou wat voorheen beweer het sy is Madeleine McCann, word tans vir bekruiping (stalking) verhoor, nadat sy Maddie McCann se familie glo geteister en by haar ouerhuis opgedaag het. Maddie McCann het in 2007 op 3-jarige ouderdom in Portugal verdwyn en die saak is steeds onopgelos.
Lees ook: Maddie McCann-hoofverdagte op pad hof toe vir onverwante verkragtingsaak
Wandelt en haar ondersteuner, Karen Spragg, is in Februarie in hegtenis geneem vir die bekruiping van die McCann-familie.
Wandelt het beweer sy is Maddie McCann en dat sy herinneringe het van haar lewe as Maddie en haar verdwyning voor sy glo Pole toe gestuur is vir mensehandel.
McCann se broer en suster, Sean en Amelie, het getuienis in die Leicester-hof gelewer. Amelie het gesê dit was vir hulle “onstellend” om boodskappe van Wandelt te kry. Sy het verder gesê Wandelt het vir haar boodskappe gestuur oor “herinneringe” van Maddie, asook gedokterde foto’s van hulle saam om te “bewys” sy is Maddie. Amelie het gesê die foto’s was “ontstellend” want haar eie gesig is verander om meer soos Wandelt s’n te lyk.
Maddie se ouers, Kate en Gerry, het gister getuig oor hoe Wandelt en Spragg (61) in Desember 2024 by hulle voordeur opgedaag het. Kate het getuig Wandelt het haar “ma” genoem en Spragg het gevra: “Wil jy nie jou dogter terugkry nie?”
Kate is die huis in, maar die vrouens het aanhou klop aan haar deur. Wandelt het toe ‘n brief by hulle huis gelos waarin sy Kate “ma” genoem het en dit as “Madeleine” geteken het.
Kate het getuig Wandelt het in 2022 vir Gerry by die hospitaal waar hy gewerk het, geskakel en oor die Find Madeleine-veldtog ge-e-pos, maar dat sy eers in 2024 direkte kontak gemaak het. Die polisie het vir hulle ‘n foto van Wandelt gewys en hulle het gesê die vrou op die foto is nie Maddie nie; tog het Wandelt aangehou om hulle te teister. Kate het polisie toe gegaan toe sy uitgevind het Wandelt het Amelie gekontak.
Wandelt en Spragg het die klagtes van bekruiping, wat ernstige ontsteltenis en stres vir Kate en Gerry veroorsaak het, ontken.
Bronne: The Sun, BBC, Sky News
Lees ook: Maddie McCann-hoofverdagte op pad hof toe vir onverwante verkragtingsaak





