KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou (46) is vroeër vandag in Tongaat in hegtenis geneem nadat sy beskuldig is van die beweerde bedwelming van bejaardes waarna hulle dan glo beroof is.
Volgens Reaction Unit South Africa is beamptes na Pensioners Cottage in Pleinstraat ontbied nadat die vrou met ‘n plaaslike raadslid oor gesubsidieerde verblyf vergader het en deur inwoners as ‘n bedrieër, wat ‘n inwoner beroof het, geïdentifiseer is. Rusa-beamptes het die vrou ook met ‘n beweerde roof in Mossstraat in Verulam op 19 Maart verbind.
Op die betrokke dag het twee vroue na bewering ‘n bejaarde (67) genader en bevriend. By die bejaarde se huis, waar haar man (73) ook was, het een van die verdagtes hulle oortuig sy het as wat glo al hulle kwale sou genees. Volgens Rusa is water gekook, die as bygevoeg en vir die bejaardes gegee om te drink.
Familielede het die bejaardes ure later bewusteloos aangetref. Die bejaarde man was op die erf en het ook kneusmerke aan sy liggaam gehad. Geld, klere en juwele is geroof.
Tydens ondervraging het die verdagte aan Rusa-beamptes erken sy en nog ‘n verdagte het verskeie bejaardes in die Ethekwini-area beroof. Die tweede verdagte, wat by ‘n inbelsentrum werk, het na bewering die kontakbesonderhede van die bejaardes van hulle werk se databasis gekry, waarna telefoniese afsprake gemaak en ‘n konkoksie van slaaptablette en as aan niksvermoedende bejaardes gegee is.
Die verdagte sou na haar afspraak met die raadslid met die ander verdagte onmoet om ‘n volgende slagoffer te identifiseer.
Rusa-beamptes het die verdagte in hegtenis geneem en aan die Verulam-polisie oorhandig.





