LIMPOPO. – ‘n Vrou (33) het glo Maandagoggend omstreeks 06:00 haar man (32) in die Elansdoom-woonbuurt doodgeskiet in wat as ‘n huishoudelike dispuut beskryf is. Beide is onderwysers in die Dennilton-area.
Kol. Malesela Ledwaba sê voorlopige inligting dui op die vrou wat uitgevind het haar man het ‘n buite-egtelike verhouding. Sy het glo haar man se gelisensieerde vuurwapen gaan haal en lukraak op hom geskiet terwyl hy probeer wegkom het. Hy is egter raakgeskiet en het op straat inmekaargesak.
Die polisie en nooddienste het die man in ‘n plas bloed aangetref en hy is dood verklaar. Die vuurwapen wat in die misdaad gebruik is, is gekonfiskeer.
Ledwaba sê die egpaar is oorspronklik van Kwazulu-Natal. Hulle identiteit sal binnekort bekend gemaak word.
Die vrou sal op ‘n aanklag van moord in die Moutse-landdroshof voorkom.





