KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou is Donderdagmiddag by ‘n huis in Oakford doodgeskiet. Sy was besig om kos uit haar voertuig te laai en die huis in te neem, toe sy glo deur twee verdagtes oorval is.
Lt.kol. Paul Magwaza het aan Nuusflits bevestig die vrou is nie ‘n polisiebeampte nie. Sers. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, sê ook aan Nuusflits die Verulam-polisie ondersoek ‘n saak van moord nadat ‘n vrou na bewering in haar huis in Verulam doodgeskiet is. Die motief vir die moord is onbekend.
Prem Balram van Reaction Unit South Africa (Rusa) sê beamptes is kort voor 14:00 ontbied nadat inwoners aangemeld het dat ‘n polisiebeampte aangeval word. Beamptes het hulle na die toneel gehaas en dit beveilig. ‘n Bejaarde vrou is buite die kombuis aangetref. In die huis tussen die kombuis en sitkamer is ‘n vrou in ‘n plas bloed op die vloer met verskeie skietwonde aangetref. Leë 9 mm-patroondoppies is op die toneel opgetel.
Volgens inligting het die vrou kort voor die voorval by haar ma se huis in ’n wit BMW aangekom. Terwyl sy besig was om kos uit die voertuig te laai, het twee onbekende mans haar glo die huis in gevolg. Skote is kort daarna geskiet. Die verdagtes het in ’n wit SUV weggejaag. ’n Huiswerker het aan beamptes gesê sy het skote gehoor en die slagoffer daarna op die vloer aangetref.
Balram sê voorts die slagoffer se ma was in die huis tydens die aanval, maar kon weens ’n onlangse mediese toestand nie veel besonderhede verskaf nie. Daar is aangedui dat die oorledene moontlik verbonde was aan die polisie, maar dit kon nie bevestig word nie. Hofdokumente is in haar voertuig gevind.
Die motief vir die skietery word nog ondersoek.




