MPUMALANGA. – ‘n Vroulike polisiekonstabel is Woensdagaand omstreeks 22:00 deur ‘n verdagte (35) geskiet en gewond. ‘n Man (35) het intussen as gevolg van ‘n skietwond in die hospitaal gesterf.
“Die motief vir die voorval is in hierdie stadium nog onbekend en dit sal deel wees van die ondersoek, maar huishoudelike geweld kan nie uitgesluit word nie.”
Brig. Donald Mdhluli sê die insident het in Embalenhle gebeur waar die polisie ingelis is oor skote wat gehoor is. Met aankoms op die toneel is die twee skietslagoffers gekry waar hulle langs ‘n voertuig gelê het. Die polisiekonstabel ontvang mediese behandeling.
“Na hierdie verskriklike nuus is ‘n soektog na die verdagte van stapel gestuur. Danksy die vinnige koördinering en samewerking deur polisielede, met hul eweknieë van die Blitspatrollie-eenheid in die Noordwes-provinsie, is die verdagte tussen Potchefstroom en Ventersdorp gearresteer.”
‘n Moordsaak is geopen. Die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Maj.genl. Zeph Mkhwanazi sê: “Ons voorlopige ondersoek dui op die moontlikheid van gesinsgeweld. Ons gedagtes en gebede is by die slagoffer(s) en hul families gedurende hierdie moeilike tyd. Ons sal verseker dat geregtigheid vir die slagoffers geskied en dat die verdagte deur die volle mag van die reg in die gesig gestaar word.”





