KWAZULU-NATAL. – ‘n Verdagte (28) is tydens ‘n intelligensiegedrewe ondersoek deur Amangwe-speurders in ‘n hospitaal in hegtenis geneem nadat vyf persone Sondagmiddag in Estcourt doodgeskiet en nog twee is gewond toe daar tydens ‘n tradisionele seremoniële feesviering op hulle losgebrand is. Ten minste vyf ander verdagtes word gesoek.
Kol. Robert Netshiunda sê volgens inligting het ses vermomde verdagtes met gewere en handwapens by ‘n huis waar die feesvieringe plaasgevind het, opgedaag. Daar is op die mense geskiet, waarna drie op die toneel gesterf het. Nog twee persone is na ‘n mediese fasiliteit gehaas. Een van die gewondes het in die hospitaal gesterf. Die oorledenes was onderskeidelik 45, 57, 60 en 61 jaar oud.
“Die verdagte het ‘n skietwond in die bors en ‘n gebreekte arm van die misdaadtoneel opgedoen en is deur sy makkers hospitaal toe geneem. Dit moet nog vasgestel word of hy deur vriendelike vuur of deur weerwraak van iemand anders op die toneel getref is.”
Netshiunda sê die motief vir die moorde is deel van die polisie se ondersoek, maar die vermoede is die insident kon moontlik veediefstalverwant wees. Die oorledenes was lede van die gemeenskap se teen-veediefstal-groep.
Die verdagte sal in die hof verskyn wanneer hy genoegsaam herstel het. Enigiemand met inligting oor die ander verdagtes word gevra om na vore te kom en die polisie so in hulle ondersoek te help.