WES-KAAP. – Vyf mense is Woensdagaand doodgeskiet en vyf ander ernstig gewond toe gewapende mans op hulle in Atlantis geskiet het. Die slagoffers was op pad van Silwerstroomstrand af toe op hulle geskiet is.
Volgens brig. Novela Potelwa van die polisie is die teen-bende-eenheid aktief besig met ‘n soektog na die verdagtes. Die voorval het op die hoek van Mamre- en Silwerstroompad plaasgevind, waar die slagoffers in drie voertuie gery het toe hulle aangeval is. Vyf oorledenes, tussen 18 en 30 jaar, is noodlottig getref. Die vyf gewondes is na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit gehaas vir behandeling.
Die polisie het reeds sake van moord en poging tot moord geopen, en die ondersoek is aan die gang om die motief vir die aanval vas te stel.





