GAUTENG. – Vyf verdagtes – twee Jamaikaanse, twee Malawiese en een Lesotho-burger – is Donderdag op De Deur in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings volg ná die ontdekking van ‘n hidroponiese daggalaboratorium ter waarde van meer as R1 miljoen deur die polisie.
Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, sê die operasie is deur intelligensie gedryf. Die polisie het tydens die operasie onder meer ’n .303-geweer en ’n 9 mm Glock-pistool teruggevind. Die verdagtes word aangekla van dwelmhandel. Twee van hulle word ook deur aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die gesig gestaar.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Meyerton-landdroshof verskyn. Die polisie se ondersoek duur voort.
Kry jou nuutste nuus elke oggend per e-pos. Teken hier aan: