NOORD-KAAP. – Boitumelo Montwedi (34) is vir poging tot verkragting van sy buurvrou (61) tot vyf jaar tronkstraf deur die Kathu-streekshof gevonnis.
Lt.kol. Sergio Kock sê die vrou het in Junie 2020 die beskuldigde op pad van Sishen na Kathu teëgekom. Hulle het saam gestap omdat hulle naby mekaar gebly het. Die beskuldigde het die slagoffer vanweë ‘n beseerde hand gevra om sy deur te help oopsluit. Hy het haar op die bed neergestoot en probeer verkrag, maar sy kon terugbaklei en daarin slaag om te vlug.
Die slagoffer het die voorval by die polisie aangemeld, waarna Montwedi in hegtenis geneem is. Hy was in aanhouding tot 22 Maart toe hy gevonnis is.
Montwedi moet vyf jaar direkte tronkstraf uitdien.
Speur.sers. Boikanyo Pilane is vir sy suksesvolle afhandeling van die saak geprys.





