GASA. – Vyf joernaliste van Al Jazeera het gister in ’n Israeliese aanval op die Al-Shifa-hospitaal omgekom.
Lees ook: Israeliese burgers betoog teen Netanyahu se plan om Gasa oor te neem
Al Jazeera het berig die joernaliste Anas al-Sharif en Mohammed Qreiqeh, sowel as die kameramanne Ibrahim Zaher, Mohammed Noufal en Moamen Aliwa was in ’n tent vir joernaliste by die hospitaal se hoofhek toe Israel die hospitaal aangeval het. Volgens Al Jazeera was die “geteikende moord” op die joernaliste “nog ’n blatante en voorafbeplande aanval op persvryheid”.
’n Inskrywing op Al-Sharif se X-rekening ná sy dood, waarskynlik deur ‘n vriend, geplaas, lees: “As my woorde jou bereik, weet Israel was suksesvol in my doodmaak en my stem stilmaak. Moenie Gasa vergeet nie. En moenie my vergeet in jou gebede vir vergifnis en aanvaarding nie”.
Die Israeliese verdedigingsmag het bevestig dit het die prominente joernalis, Anas al-Sharif, geteiken omdat hy na bewering “die hoof van ’n terreursel van Hamas” was en “vuurpylaanvalle geloods het op Israeliese burgers en weermagtroepe”.
Die Committee to Protect Journalists het gesê dit is geskok deur die aanval en dat Israel geen bewyse voorsien het om die bewerings oor al-Sharif te bewys nie.
Nog twee mense is in die aanval oorlede, maar hulle identiteit is onbekend.
Bronne: BBC, Daily Mail, The Independent
Lees ook: Israeliese burgers betoog teen Netanyahu se plan om Gasa oor te neem




