KWAZULU-NATAL. – Vyf mense is Sondagoggend net voor 06:00 dood in ‘n ongeluk in Eddie Hagen-rylaan in Cato Ridge. Die insittendes van die motor was met ‘n beseerde persoon na ‘n kliniek onderweg.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê in ‘n verklaring verskeie nooddienspersoneel is na die toneel waar ‘n ligte motorvoertuig teen ‘n drein van beton gebots en feitlik in twee geskeur het. Jamieson sê ‘n gesin van ses was glo met ‘n kritiek beseerde man, wat aangerand en gesteek is, na ‘n plaaslike kliniek op pad toe die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor het.
Paramedici het vier persone op die toneel dood verklaar. Twee pasiënte is deur paramedici op die toneel gestabiliseer, maar een se hart het gaan staan en hy is ook dood verklaar. Een is in ‘n kritieke toestand vir dringende sorg na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas.
Die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, is in hierdie stadium onbekend en word deur die polisie ondersoek.


Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





