WES-KAAP. – ‘n Bejaarde weldoener, vermoedelik in haar 80’s, is Dinsdagoggend omstreeks 07:00 buite Greenways in die Strand aangerand. Strand Patrol Helderberg waarsku persoonlike veiligheid moet ten alle tye vooropgestel word.
KC Gericke, die voorsitter van Strand Patrol Helderberg, sê aan Nuusflits hy het inligting oor die aanranding ontvang. “Die bejaarde vrou het uit die goedheid van haar hart vir mense kos gegee, toe sy brutaal deur ‘n man met ‘n klip aangerand is.” Gericke sê die aanval het glo sonder provokasie plaasgevind.
“Twee drawwers het haar te hulp gesnel.”
Gericke sê die bejaarde vrou is getraumatiseer en daar word na die drawwers wat haar gehelp het, of enige ander getuies wat die voorval sien gebeur het, gesoek. Volgens sy kennis is die saak nie by die polisie aangemeld nie.
Kontak Gericke deur die noodnommer by +27 67 812 9794, of by [email protected]
Gericke gee die volgende veiligheidswenke indien jy buite jou huis of veilige omgewing is:
Probeer om altyd saam met iemand te beweeg of om in groepe te beweeg. Indien jy nie anders kan nie, moet jy waaksaam en oplettend wees, veral ook in die donker.
Beplan jou roete vooruit en deel dit met iemand wat weet jy gaan uit en wanneer jy terug is. Vermy verlate plekke en moenie waardevolle items openlik vertoon nie. Dit is wys om waardevolle items liefs tuis te los.
Moenie jou selfoon gebruik terwyl jy alleen in ‘n verlate gebied is nie en moet ook nie ‘n beursie of handsak met geld in oopmaak sodat almal dit kan sien nie. Moenie persoonlike items bo jou lewe plaas nie.
Bêre noodnommers op jou selfoon indien jy nodig het om hulp te soek. Leer ‘n selfverdedigingstegniek aan.





