Brekende Nuus
Nuus

Dagga van R3 m. ontdek nadat bakkie tydens polisiejaagtog omslaan

Foto's: SAPD

MPUMALANGA. – Die polisie het Saterdagoggend sowat 411 kg dagga met ’n geraamde straatwaarde van R3 miljoen ontdek nadat ’n Toyota Hilux tydens ’n polisiejaagtog op die R543 naby Wakkerstroom omgeslaan het. Beamptes het 22 sakke dagga in die omgeslaande bakkie gekry en drie verdagtes in hegtenis geneem.

Kapt. Mpho Nonyane-Mpe, polisiewoordvoerder, sê beamptes was omstreeks 01:20 besig met ’n stop-en-deursoekingsoperasie toe hulle drie verdagte voertuie in ’n konvooi gewaar. Die bestuurders het glo weggejaag toe die polisie hulle wou voorkeer. Beamptes het hulle agternagesit. Die wit Hilux het omgeslaan en die ander twee voertuie het van die toneel weggejaag.

Die polisie het op die Hilux en ’n wit Ford Ranger beslag gelê. Die drie verdagtes is van handel in dagga aangekla en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Lt.genl. Apaphia Modise, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes vir hul oplettendheid en vinnige optrede geprys.